'n Ark tot redding
Verwoeste lewens soos geknakte riete
Waarin 'n effe sap van hoop nog vloei
En meegesleur; 'n dolle malle rite
Van wanhoop; vasgevang en so geboei,
Gedompel in die malend lewensstrome,
So sonder anker, sonder gees en hoop
Op wat die môre bring, want al hul drome
Het dof verflou en is tot as gesloop.
'n Hand wat reik vanuit die malend kolke,
'n Roep om hulp vir redding en vir krag
om uit te styg bo al die newelwolke
wat die verstand verdof met dwelmend mag
van die gewoonte, sterk en onweerstane
Die laagpunt van 'n swakke uit te buit.
Is daar geen hand te keer dat hul vergane?
En hul woeste dolle vaart te stuit?
'n Uitgestrekte hand word uit genade;
Uit naasteliefde na die drenkeling
Gereik om hom te red, en so gerade
Die hoop weer aan te blaas in swakkeling.
Die diepgesonkene weer te verhewe
Tot hy ook weer selfstandig sal kan staan,
En so met eie vaste tred die lewe
Met helder oog, en fier, deur voort te gaan.
'n Enkeling, ten spyt van gebreke,
Gelowig in sy God se liefdeskrag,
Het ag gegee; gesien die wanhoopsmeke,
En in sy swakheid wonders vermag.
'n Reddingsark op God's gena gebou,
Om swakke geeste deur die vloed te dra.
Op redding bly onwrikbare vertroue;
En sy gebed vra altoos God's gena.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 16 Oktober 1980